
BoerPot
Business & Economics Podcasts
BoerPot is ’n Agri Podcast waar ons gereeld gesels oor alles wat met die besigheid van boerdery te make het. Besoek ons webwerf: www.klipkouers.com BoerPot, a podcast dedicated to the agricultural sector where we regularly discuss everything related to the business of farming.
Location:
South Africa
Description:
BoerPot is ’n Agri Podcast waar ons gereeld gesels oor alles wat met die besigheid van boerdery te make het. Besoek ons webwerf: www.klipkouers.com BoerPot, a podcast dedicated to the agricultural sector where we regularly discuss everything related to the business of farming.
Language:
Afrikaans
Contact:
0661628568
Website:
https://klipkouers.com/
Email:
jacques@nr7media.co.za
Episodes
Episode 35: Rossouw Cillié
6/20/2023
Rossouw Cillié beskou boerdery as bykans ’n wettige manier van dobbel. Maar, glo hy, ’n mens moet dit met geloof aanpak. Cillié het 36 jaar gelede by die familie-onderneming, Laastedrif, buitekant Ceres, aangesluit, en voortgebou op die trotse tradisie van vrugte- en groenteverbouing, wat 100 jaar vantevore deur sy oupagrootjie, Piet ‘Kalifornië’, van stapel gestuur was.
Cillié, nie alleen ’n toegewyde boer nie maar ook ’n uitgeslape sakeman, was in 2013 deur die Landbouskrywersvereniging aangewys as Boer van die Jaar. Hoewel landbou reuse uitdagings in die gesig staar, meen Cillié dat ’n mens eenvoudig uit die boks moet dink en dinge moet maak gebeur - soos om voortdurend waarde toe te voeg op produkte…
Duration:00:53:59
Episode 34: Daantjie Jordaan
6/9/2023
Gholf verg opoffering, presisie en toewyding. Dieselfde geld vir boerdery. Daantjie Jordaan, ’n PGA-gekwalifiseerde professionele gholfspeler, behartig die afgelope 13 jaar die familieboerdery te Grootvlei in Mpumalanga, insluitende ’n 113-jaar oue wildsplaas. Landbou bied toenemend uitdagings, soos uiterste klimaatstoestande en verhoogde insetkostes. ’n Boer maak egter ’n plan, lui die gesegde, en Jordaan glo dat ’n mens proaktief moet wees, eerder as om aanhoudend te kla. Hy is derhalwe van mening dat landbou ’n blink toekoms inhou vir enigiemand wat bereid is om sy kant te bring. Soos Benjamin Franklin dit gestel het: “You will find the key to success under the alarm clock…”
Duration:01:08:15
Episode 33: James Faber
11/2/2022
James Faber is voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente Organisasie. Benewens die feit dat hy ’n merkwaardige sakeman is, is hy ook passievol oor veeboerdery en toegewyd tot die bevordering van volhoubare veeboerdery. ’n Familietragedie het vir James, en sy broer en suster, op ’n jong ouderdom gedwing om te begin boer, en hy het vroeg reeds die noodsaaklikheid van diversifisering gewaardeer. Dis dié dat hy ook mettertyd in die eiendomsbedryf betrokke geraak het. En, hy weet net van vorentoe boer. Hy glo dat die landbousektor moet saamstaan om Suid-Afrika se ekonomie vorentoe te vat. Want, soos sy besigheid se leuse lui, die enigste manier om ’n verskil te maak, is om deel van die oplossing te wees…
Duration:00:58:45
Episode 32: Gerrit de Beer
9/28/2022
Met ’n visie om sosiale en ekonomiese opheffing deur landbou te skep, het Jan le Roux, verlede jaar se Boer van die Jaar, bykans 30 jaar gelede die Le Roux-groep op die been gebring. Sedertdien het die Le Roux-groep koringlande in die Boland opgekoop om te omskep in vrugteboorde, en deesdae verbou, verpak en voer die groep jaarliks meer as 3 miljoen kartonne steenvrugte en tafeldruiwe van wêreldklasgehalte uit. Van selfs groter belang is die feit dat die groep permanente werk verskaf aan ’n duisend mense vanuit die omliggende, agtergeblewe gebiede, asook aan meer as 5000 seisoenwerkers. Gerrit de Beer, Bedryfsbestuurder van die Le Roux-groep, gesels padlangs met my oor hierdie voelgoed-storie…
Episode 31: Nick Serfontein
9/9/2022
Sy moed van oortuiging om nie alleen vir Cyril Ramaphosa aan te vat oor grondhervorming nie, maar ook aan die president ’n werkbare oplossing te bied vir die kwessie, het Beeld genoop om vir Nick Serfontein aan te wys as Persoon van die Jaar in 2018. Hierdie megaboer van die Vrystaat het geen bekendstelling nodig as entrepreneur en voorsitter van die Sernick-groep nie, en glo dat ’n mens altyd moet streef na die positiewe. Voorts gaan hy van die standpunt uit dat boerdery, soos die waardeketting deesdae daar uitsien, ongelooflike geleenthede bied wat nog ontwikkel kan word. Serfontein is verál passievol oor die ontwikkeling van swartboere. Hy maan egter dat suksesvolle grondhervorming nie die blote uitdeel van grond behels nie, maar wel die vestiging van suksesvolle boere.
Episode 30: Charles Back
8/22/2022
Charles Back is die derde-generasie eienaar van wyn- en kaasprodusent Fairview in Paarl, en die opregtheid en eerlikheid van sowel sy pa as oupa, is ’n waarde wat hy steeds met hom saamdra. Back het vroeg, as leerder aan Paarl Gimnasium, insae gekry in diskriminasie, en ’n sensitiwiteit vir die ‘underdog’ ontwikkel. Juis daarom beskou hy wynbou as ’n manier om mense te bemagtig en vooruitgang in Suid-Afrika te dryf. As Wes-Kaap se Boer van die Jaar in 2017, is Back se visie om uiteindelik al sy produkte direk aan die eindverbruiker te verkoop, want, glo hy, as ’n mens jou produkte reg bemark, op die plaas, sal mense eerder soontoe kom as supermark toe gaan…
Episode 29: Petie Bezuidenhout
8/8/2022
Middelburg-mielieboer Petie Bezuidenhout is ’n passievolle John Deere-kliënt, en beskik oor ’n indrukwekkende versameling van sowel Deere-speelmodelle as tweesilinder-trekkers wat hy restoureer. Besuidenhout se grootste passie bly egter boerdery. Hy bedryf die afgelope 27 jaar die familie-boerdery op die plaas Wonderfontein, wat sy pa 42 jaar gelede aangeskaf het. Mielies is nog altyd die hoofvertakking, maar Bezuidenhout-hulle het oor die jare ook uitgebrei na sojabone, beeste, hoenders en selfs ’n privaat wildreservaat. Bezuidenhout is ’n man wat hou van uitdagings - selfs die bedreiging wat mynbou in Mpumalanga inhou, kan hom nie van stryk bring nie - en hy glo dat, om winsgewend te bly, ’n mens eenvoudig móét groot boer…
Episode 28: Christo en Abrie Cronje
7/25/2022
Boerdery in die Vrede-distrik van die Vrystaat is meer ‘broederskap’ as buurmanskap. Aldus die Cronje-broers, Christo en Abrie, wat boer op ‘n familieplaas wat reeds die afgelope 70 jaar aan die Cronje’s behoort. Die boerdery beslaan ’n saaiery, veevertakking, veevoeraanleg, braaihoenders en selfs ’n vervoerbedryf. Vir die Cronje-broers gaan dit daaroor om die voorsieningsketting so kort as moontlik te maak. Hoewel Christo en Abrie onafhanklik die onderskeie entiteite van die boerdery bedryf, geniet hulle die onderlinge ondersteuning van die familieboerdery - vernaam wanneer dit kom by kritieke sakebesluite. Hulle glo daarin om te waak teen stagnasie, want dis in elke boer se belang om voortdurend sy besigheid groter en beter te probeer maak.
Episode 27: Tom Van Rooyen
7/11/2022
“’n Mens hoef nie die beste in die weste te wees nie; solank jy net meer agterlaat as waarmee jy begin het…” So sê Tom van Rooyen, wat boer op ’n 100-jaar oue familieplaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Met ’n BSc Landbou-ekonomie honneursgraad agter sy naam, verbou Van Rooyen mielies, sonneblomme en droëbone, terwyl hy ook oor ’n taamlike veevertakking beskik. Volgens hom is beeste egter effens stadig, en verkies hy die spoed van saai. Benewens boerdery, stel Van Rooyen ook belang in besigheid, en is hy betrokke by eiendomsontwikkeling. Hy glo dat ’n mens so ’n komponent behoort in te bou in jou langtermynbeplanning, om jou risiko te versprei, en sodat alles nie aan droogtes gekoppel is nie.
Episode 26: Victor Adendorff
4/15/2022
Water en sanitasie is van die grootste uitdagings wat die wêreld in die gesig staar. As stigter en Besturende Direkteur van Scientific Sanitation Solutions, wy Victor Adendorff hom toe aan die ontwikkeling van tegnologies gevorderde produkte vir water sanitasie-oplossings. Sy eertydse opleiding as valskermsoldaat, het vir Adendorff die noodsaaklike dissipline en deursettingsvermoë geleer wat hy later kon deurtrek na die sakewêreld toe. Hy beskou deursettingsvermoë as die grootste bate in besigheid, en vernaam in landbou. Boerdery is huidiglik waarskynlik die moeilikste bedryf in Suid-Afrika, maar, soos die gesegde lui, ‘’n Boer maak ’n plan…’ Juis daarom het Scisan ook vorendag gekom met Sani-99™ for AGRI, ’n uiters effektiewe
Episode 25: Dewald Olivier
9/2/2021
As kind wat in die subtropiese landboustreek van Tzaneen grootgeword het, het Dewald Olivier vanuit die staanspoor ‘n passie vir landbou gehad. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat hy in 2018 aangestel is as hoof uitvoerende beampte van die SA Voerkraalvereniging, in welke hoedanigheid hy toesig hou oor die vereniging se werksaamhede ten einde nakoming en doeltreffendheid op alle vlakke te verseker. Dewald het ‘n MBA verwerf aan die NWU Besigheidskool, en, as iemand met jarelange ervaring in die landbou-industrie, en spesifiek die vleisbedryf, spog Dewald met ‘n bewese baanrekord in die omskakeling van besigheidsdoelwitte in strategieë en taktieke.
Episode 24: Koos Janse van Rensburg van VKB
7/7/2021
Koos Janse van Rensburg is ‘n gebore en getoë Vrystater, maar het, nadat hy sy BCom-graad aan UOVS verwerf het en 15 jaar as ‘n ouditeur in Betlehem gewerk het, etlike jare in die Wes-Kaap deurgebring, uiteindelik as bedryfsdirekteur van Kaap Agri. Hy het 15 jaar gelede egter teruggekeer Vrystaat toe, toe hy as Besturende Direkteur van VKB in Reitz aangestel is. Koos praat padlangs oor die 150-jarige geskiedenis van koöperatiewe landboubesighede, soos VKB, in Suid-Afrika, en hy wil graag sien dat VKB as maatskappy homself as die onbetwiste leier in plaaslike landboubesigheid vestig.
Episode 23: Cobus van der Merwe van SKUDU
6/25/2021
Volgens Cobus van der Merwe, HUB van Skudu, ‘n man met bykans 30 jaar se ondervinding in kommoditeite handel, voorsieningsketting en besigheidsbestuur, is daar twee aspekte wat van kardinale belang is in bemarking: bewuswording en tydsberekening. Tegnologie speel ‘n al hoe belangriker rol om bemarkingsvraagstukke vir die boer op te los, soos Skudu se revolusionêre Match-toepassing, wat ‘n direkte skakel skep tussen boere en kopers van hul gewasse, en dus sowel bewuswording as tydsberekening aanspreek. Verder werp Cobus ook meer lig op die kontroversiële onderwerp van vervoerdifferensiaal, ‘n tameletjie waarmee SA Landbou reeds vir die afgelope 25 jaar worstel. Besoek hulle webwerf: https://skudu.co.za/
Episode 22: Johan Badenhorst
4/30/2021
Suid-Afrikaanse liefhebbers van die buitelewe word die afgelope dekade reeds op reis geneem saam met Voetspore, die reeks van dokumentêre programme op SABC 2. Dit het Johan Badenhorst gevestig as ‘n huishoudelike naam in menige plaashuise regoor die land, vanweë die epiese buitelug-ekspedisies wat hy sedert 2000 onderneem het regdeur Afrika en verder. Johan sien homself primêr as ‘n TV-programvervaardiger en joernalis, wat daarvan hou om stories te vertel. Sy wedervaringe het egter ook die entrepreneur in hom aangewakker, en dit het aanleiding gegee tot die Voetspore-leefstylwinkel en 4x4 monteringsentrum in Pretoria. Hierdie is een van die fassinerendste gesprekke wat ek in ‘n lang ruk gevoer het... Voetspore
Episode 21: Neels Grieshaber
2/18/2021
Neels Grieshaber is nie alleen ‘n suksesvolle boer van die Ellisras-distrik in die Bosveld nie. Hy is ook ‘n entrepreneur by uitnemendheid. Neels is die baasbrein agter die bekroonde alles-in-een klamptang, Magi-Clamp, wat ontwerp, ontwikkel en vervaardig is om draadklampe effektief vas te maak op enige pyp of spuitslang of veerkragtige materiaal of ander klamptoepassings. ‘n Voortdurende gesukkel om stukkende waterpype op die plaas en in voertuie te herstel, het Neels genoop om te begin eksperimenteer, en hy het die baanbrekerswerk van sy oorlede oom, Jimmy Grieshaber, verder gevoer en vervolmaak. Juis daarom noem hy die Magi-Clamp ook die ‘Jimmy’ Tool’...
Episode 20: Cog van der Colff
11/28/2020
Cog van der Colff boer reeds die afgelope 20 jaar op ‘n familieplaas van 200ha in die Upington-omgewing, op die oewers van die Oranjerivier, wat tafeldruiwe, rosyne en pakanneute produseer. Cog het in 2006 na organiese boerdery oorgeskakel en ‘n paar jaar later sy eerste suksesvolle oes gelewer. Die boerdery het van krag tot krag gegaan, en in 2011 is Cog aangewys as Agri SA/Toyota se ‘Boer van die Jaar’. Die plaas beskik boonop oor sy eie verpakkingsfasiliteit vir rosyne, wat ‘n addisionele bron van inkomste en werkskepping bied, en verlede jaar het Cog ook ‘n lisensie bekom om cannabis, vir medisinale doeleindes, te produseer vir uitvoer na Kanada.
Episode 19: Zander Ernst
11/27/2020
Tzaneen staan bekend as bosbouwêreld, met klem op veral denne- en bloekomplantasies. Zander Ernst, & 'n vierde-generasie boer wie se oupagrootjie bykans 100 jaar gelede hom hier gevestig het, se familie het egter twee dekades gelede begin om hul bloekom om te skakel na avokados toe. Die feit dat hulle reeds oor 'n wêreldklas avokado-kwekery beskik het, het die omskakeling vergemaklik, en vandag maak Allesbeste-boerdery 'n noemenswaardige deel uit van Tzaneen se avo-produksie - wat 40% van Suid-Afrika se avokados lewer.
Episode 18: Vickie van der Westhuizen
11/26/2020
Vickie van der Westhuizen en sy broers het grootgeword op hul pa se plaas in die Parys-distrik. Die droogtes en hoe rentekoerse van die Negentigerjare, het hom en sy broers genoop om die grond onderskeidelik op te koop ten einde die plaas te red, en Vickie het sy plaas, Weiveld, oor die afeglope twee dekades opgebou tot een van die susksesvolste saaiboerderye in die distrik. Boonop het hy 'n paar jaar gelede ook 'n voerkraal op die been gebring. Die volgende stap in die uitbreiding van sy bedryf is 'n eie meule, want ten einde meer volhoubaar te wees is dit noodsaaklik om 'n mens se produk verder te neem en van die middelmanne uit te sny.
Episode 17: Pieter van der Westhuizen
11/25/2020
Pieter van der Westhuizen boer met mielies, sonneblomme en sojabone, nadat hy aanvanklik met beeste gespekuleer en ook 'n melkery bedryf het. Hy verkies saaiboerdery aangesien die omdraaityd vinnig is en 'n mens, met behulp van moderne tegnologie, vinniger die regte besluite kan neem om jou besigheid te verbeter. Hy spandeer ook heelwat geld om sy grond se vrugbaarheid en status voortdurend te verbeter. Verder glo Pieter in proewe - standproewe, kunsmisproewe, kultivaarproewe ensovoorts - en het hy ‘n voltydse persoon aangestel met die uitsluitlike doel om proewe te plant. Sy werkers, en veral die trekkerdrywers, beskou Pieter as spesialiste in hul eie reg, wat groei saam met die tegnologie, en derhalwe betaal hy hulle tot drie maal die minimum loon.
Episode 17: Johan Vos
11/24/2020
Met 'n geoktrooieerde rekenmeester as pa, was Johan Vos as kind 'n dorpsjapie wat van jongs af 'n passie vir boerdery ontwikkel het. So passievol was Johan daaroor as 'n tiener, dat hy smiddae na skool uitgedraf het plaas toe en terug - net om vir 'n paar uur te kon boer. Vee was nog altyd sy groot liefde, maar mielies het noodsaaklike diversifikasie gebied soos die besigheid uitgebrei het. Johan het ook 'n meule op die plaas bedryf, maar dit uiteindelik toegemaak namate die administrasie daarvan, en spesifiek geldinvordering, die aandag van sy boerdery begin aflei het.